Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) is ‘n vereniging van Afrikaanse regslui wat in die eerste plek die belange van Afrikaans en die sprekers van Afrikaans in die regspleging bevorder. Die VRA poog om deur beïnvloeding van staatsorgane beleid en praktyk te verander ten einde die regspleging in die besonder vir Afrikaanssprekendes meer toeganklik te maak en dit te verbeter. Die VRA beklemtoon egter die noodsaak om nie in ‘n kultuur van afhanklikheid jeens die staat te verval nie. Gevolglik spits die vereniging sy aandag daarop toe om selfstandige vermoë en fasiliteite ter bevordering van Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap te ontwikkel. Uit ervaring weet die VRA dat daar aansienlike energie, dryfkrag en vaardigheid onder Afrikaners in die professies en in die besonder in die regsprofessie beskikbaar is waardeur hierdie selfstandige vermoë inderdaad toenemend ontwikkel kan word.
Die doelstellings van die VRA soos dit in sy grondwet vervat is, is:
- Om Afrikaans in die algemeen as amptelike taal en in die besonder as regstaal te bevorder en uit te bou;
- Afrikaans as hoftaal te bevorder;
- Bedinging met uitgewers om regsliteratuur in Afrikaans te publiseer;
- Afrikaans aan universiteite en ander opleidingsinstansies te bevorder, ook onder nie-Afrikaanssprekendes;
- Die bevordering en vertaling van regsliteratuur in Afrikaans;
- Die verskaffing van regsbystand in omstandighede waar Afrikaanse taalregte aangetas word;
- Die bevordering van die gebruik en aanwending van Afrikaans by regseminare, byeenkomste en vergaderings;
- Die bevordering van regsonderrig en -opleiding in Afrikaans met Afrikaanse lesingmateriaal;
- Die ondersteuning van instellings en verenigings wat Afrikaans as taal erken en respekteer;
- Die uitbou en ondersteuning van tolkdienste na en vanuit Afrikaans;
- Die bevordering van personeelbeleid en -praktyk wat streeks- en plaaslike taaldemografie, met spesifieke verwysing na Afrikaans, in ag neem, in die besonder in die regspleging;
- Om in die algemeen tot voordeel van die lede van die vereniging en van Afrikaanse regslui in die breë op te tree;
- Om te werk vir die gelyke erkenning en akkommodering van die regsbelange van die Afrikaanse gemeenskap;
- En om in die algemeen sodanige handelinge uit te voer as wat volgens die vereniging nodig mag wees om sy doelstellings te bevorder.
